Laerskool van Riebeeckpark Geskiedenis

Die saadjie vir `n nuwe Afrikaanse laerskool in Kempton Park is reeds in 1985 geplant.  Op 15 April 1986 maak `n nuwe skool sy deure vir 310 graad een tot standerd vier (Gr 6) leerders en 13 personeellede oop.

Die volgende belangrike gebeure volg gedurende die jaar:

  • 29 Mei word die skool as Laerskool van Riebeeckpark gedoop;
  • 11 Junie word ons leuse:  Doelgerig, amptelik verklaar; 
  • Augustus begin die naskoolsentrum met 11 leerders;
  • 14 Oktober word die skoolwapen algemeen aanvaar;
  • Herman Cremer en Lottie Venter word as eerste hoofseun en hoofdogter aangewys;
  • Mnr Bill van der Walt neem tot Desember 1986 as skoolhoof waar.

 

Teen Januarie 1987 het die skool reeds tot `n leerdertal van 454 gegroei, met 12 permanente personeellede, sewe tydelike en drie administratiewe personeellede.  Mnr Jimmy van Wyk word as eerste permanente skoolhoof aangestel, Me Alta Venter as eerste departementshoof van die Junior Fase, Mnr Ettiene de Wilzem as eerste departementshoof vir Opvoedkundige Leiding en Mnr Fritz van der Merwe as eerste departementshoof van die Senior Fase.  Die Riebies seëvier op die atletiekveld in die C-kring, asook op die rugbyveld met die eerste rugbyspan wat as wenners van die Noord-Rand liga aangewys word.  Die volgende is verdere hoogtepunte van die jaar:

  • 21 Mei word die skoolwapen deur die Buro van Heraldiek geregistreer;
  • 2 Junie word ons skoollied, deur Anna Rudolph geskryf en getoonset, aanvaar;
  • 16 Oktober is die amptelike ingebruikneming van die skool, tydens die skool se eerste Revue.

 

As gevolg van groeiende leerdergetalle, verkry Laerskool van Riebeeckpark op 1 Januarie 1991 P1-status.  Ons Hasie Kwassies skryf in 1992 hul eerste hasies in en die naskoolsentrum het nou 85 leerders.

1995 is Laerskool van Riebeeckpark een van die eerste laerskole om na parallelmedium-onderrig oor te skakel.  Daardeur raak die skool ook betrokke by die RAUCALL-projek om aan minderbevoorregte leerders die geleentheid vir onderrig te skep, in samewerking met twee borge (Simba en Mague Nr 1).

Op 1 Januarie 1997 neem Mnr Sakkie Theunissen die leisels as skoolhoof oor.  Die jaar sien ook die geboorte van ons Riebie Klanke nuusbrief.  1998 kry die naskoolsentrum amptelik sy naam:  Die Riebie Rakkers Naskoolsentrum.  1999 bars die skool letterlik uit sy nate en `n vierde graad 1-klas word geïmplementeer.  Om aan leerders die maksimum geleentheid vir sportbeoefening te bied, word die spreiligte Oktober 2001 amptelik aangeskakel.  Maksimum geleentheid vir opvoeding word verder geskep deur ons eerste opvoedkundige toer met 35 leerders na Ilkley Lodge, Hoedspruit.

Sedert 2004 word meer leerders die geleentheid gebied om aan sportaktiwiteite deel te neem deur amptelik ook spanne in die rugby B-liga en netbal C-liga in te skryf.  Engeltjie netbal, Valkie rugby en die Netbal Akademie bied verder die geleentheid om vroeg reeds sportvaardighede te ontwikkel.  In 2006 vier ons die skool se 20ste bestaansjaar met die produksie, The impossible dream. Ons jaarlikse kaskarwedrenne, uitreikprojekte en boomplantdag word ook nou deel van die Riebie tradisie. 

April 2009 ontvang die Riebies ons derde permanente skoolhoof, Mnr Derick Victor.

 

Laerskool Van Riebeeckpark vier vanjaar sy 30ste bestaansjaar en het met rasse skrede gegroei tot meer as 1 100 leerders en ’n opvoederskorps van 60 (wat administratiewe personeel, terreinpersoneel en studente insluit) in 2016.  Mnr. Vivian Botha is ons vierde permanente skoolhoof.  Die hoogtepunt van die jaar is ons Legacy-musiekproduksie, wanneer van ons land se topkunstenaars en die honderde helde van Laerskool Van Riebeeckpark ’n bobaas musiekproduksie op die planke bring.  Gedurende die jaar gaan ons ook begin met 30+ goeddoenprojekte. Met hierdie inisiatief gaan elke klas ’n uitreikprojek in die gemeenskap aanpak. Ons ouers, opvoeders en leerders gaan hande vat om ’n blywende verskil te maak. Saam kan ons ’n reuse-verskil in die lewe van ander maak!

2017 (Legacy - wat is joune?)

Algemeen

Die skool se waardes wat nagestreef word, word vasgelê as:  Keuses, Respek, Integriteit, Eerlikheid, Betrokkenheid, Inklusiwiteit, Eengesindheid en Skooltrots.

Tydens ons Gala Meriete-aand is drie oud-Riebies ons eregaste: Die Algemene Praktisyn Dr Dirk Lombaard, Aktrise en Motiveringspreker Leandi Du Randt-Bosch en Aktrise en Sangeres Suzanie Swanepoel.

Akademie

Die Riebies word een van die min skole in Gauteng wat spog met interaktiewe borde van Gr 1 tot Gr 7.  Die fokus is om onderrig lewendig te hou en leerders by klasonderrig betrokke te hou.

Sport

Netbal:  Die 0/13A Netbalspan woon die tweede agteraanvolgende jaar die Gauteng-kampioenskappe by, waar hulle kwalifiseer om aan die Suid-Afrikaanse Skolekampioenskappe (SASN) deel te neem.

Tydens die SASAN behaal hulle net soos in 2016 `n goeie vyfde plek.

Kultuur

Die Riebie Kore vaar uitstekend in nasionale kompetisies, soos Sing in Harmonie en Sing It .

2018  (You are the hero of you own story)

Algemeen

Ons skoolgetalle styg in so `n mate dat die Riebies nou vir `n tweede adjunk-hoof kwalifiseer. 

Akademie

Ons Gr R-klasse kry ook interaktiewe borde in hul klasse.

Sport

Soos wat ons in 2017 een van die eerste skole in Gauteng was om interaktiewe borde van Gr 1 – 7 te installeer, maak ons in 2018 geskiedenis op die sportveld deur die ingebruikneming van ons splinternuwe sportkompleks wat voorsiening maak vir Atletiek, Netbal, Rugby, Tennis en Astro-hokkie.

Kultuur

Die Riebie Seniorkoor maak geskiedenis deur aan die Internasionale Koorkompetisie in Pretoria deel te neem , waar hulle ‘n Goue Diploma verwerf. Beide die Junior koor en Senior koor dring deur na die Sing in Harmonie Finale.